Friday, May 18, 2007

Die Groot Trek

3:00 (GMT +2)
Dit sal vandag die eerste keer in my lewe wees wat ek op 'n vliegtuig klim, ek kan nie beskryf hoe op my senuwees ek is nie. Dit is ook nie net die vlieg nie, dit is die hele idee van 'n nuwe lewe wat vir my begin. Ek gaan nou projekte moet gaan doen en ek is nie seker of ek eers weet hoe om dit te doen nie. Gelukkig gaan Peet saam met my, hy is 'n baie aangename persoon en ek dink ons sal baie goed oor die weg kom. Ek is net bly dat dit iemand nice is, want hy gaan vir die volgende 7 maande die enigste persoon wees waarmee ek alles sal moet deel.

8:45 (GMT +1)
Die vlieg was toe glad nie so erg soos wat ek gedink het nie. Eintlik voel dit maar net soos om in 'n kar te ry. Die wegtrek was ook nie so great soos wat almal vir ons vertel het nie, maar dit was bietjie aardig gewees toe ons begin om die aarde te verlaat.

Windhoek se lughawe is 'n grap as jy gewoond is aan JHB International aka OR Thambo International. Daar was net nog een ander vliegtuig gewees op die hele lughawe en die ingang en uitgang is dieselfde deur :-)

9:45 (GMT +1)
Kan mens regtig Windhoek as 'n stad beskou? Ek het iets baie groter verwag. Die plek is nie veel groter as Krugersdorp nie, maar een ding moet ek van die plek se, dit is baie skoon in vergelyking met Suid Afrika. Daar is nie 'n manier dat jy in die plek sal verdwaal nie, want al die strate loop in sirkels...

16:30 (GMT +1)
Ons het in Arebbusch ingeboek vir die eerste twee weke. Dit is regtig 'n pragtige plek en ek sal maklik vir die volle 7 maande hier kan bly. Daar is darem DSTV in elke kamer, maar daar is net 5 kanalle om van te kies plus die klomp sport, nie dat die sport my vreeslik pla nie.

Hier is so twee fotos geneem van die stoep van my kamer, net om 'n idee te skep van die gevoel wat mens in die plek kry. Dit is baie rustig en mens kan nie help om te ontspan nie.